IN EEN STUK Poem by Charl-Pierre Naudé

IN EEN STUK

"Ken die gevoel," grinnik my vriend, besig om te skei.
"Maar bring jou ‘donker woud van Dante'
Karoo toe, hier sal jy weer jouself vind
waar die half-woestyn 'n groen vou maak
met sy huidhandskoen binneste buitetoe."
Iets in dié trant, my poëtiese vriend.
Ek luier die vallei af en en ry die dorpie binne,
wat weg lê, op die vloer van 'n prehistoriese see.
Verby 'n ou wa wat sak op sy as.
Die motor se kopligte skyn op 'n wilg,
'n reuse planteluster wat hang in die draai
en pulserend straal: een van die Groot Vyf;
op die memento'tjie van 'n kerk, sy vlermuise
en uile 'n oomblik lank opgeskud - 'n sneeubol.
'n Plek van wortels, waar die horlosies gaan staan het
op 'n vergete dag in die verre verlede.
"Vreemd," sê ek.
My vriend haal sy skouers op:
"Dis maar die uur hier vir mense om na
die horlosie te kyk. Niks is onverklaarbaar nie."
'n Geil kleim vir paleontoloë, vertel die dorpenaars my -
van die rykste rotsbeddings soogdierfossiele ooit,
so oud soos die dinosaurusse. Afgeknotte stukke ou dierasie
losgewrik uit die klip word aanmekaar gehou met hegdraad
en vuurhoutjies sper die kakes oop, in 'n mini-museumpie.
Sê my vriend: "In 'n week's jy weer in een stuk.
G'n wroetende sielkundige vir hierdie dorp nie."
Dae gaan verby. Die sinkdak trek saam, sit uit, smak -
spookdruppels oerreën wat klop in die silwer.
"Gehoor voor my vertrek my oupa is hier gebore," sê ek.
Hy't die vallei vir die eerste keer verlaat toe hy agt was, op 'n ossewa,
nogal oud om op te staan - vir die eerste maal -
uit die seevloer van Gondwanaland.
"Tyd," sê my vriend.
" . . . was 'n ander storie, daai tyd." In elk geval,
nie lank voor daai tyd, of miskien daarna, het die Boere
'n oerstam geelmense hier gejag en uitgewis.
Mens hoef net na die name in die begraafplaas te kyk
om te sien wie nie werklik hier gesterf het nie.
"Wetenskaplikes glo deesdae dat tyd 'n illusie is - 'n konstruk
om die onmoontlike draaglik te maak," sê my vriend:
" . . . Dat die verlede en toekoms gelyktydig gebeur."
"Sou dit dan beteken daai uitgedelgde Boesmans . . .
is vandag steeds met ons?" Ons lek ons vingers. Lam van die Karoo.
"In ons midde. Net heeltemal onsigbaar," (sê my vriend). -
In die townshiphuisies, anderkant die groot skeidslyn . . .
'n Dorp middel deur - soos ek, deur my lewe.
En oombliklik stel ek my die tydlose toneel voor: die breë stofstrate,
gepakte klipmure, doringbos wei, onder voortydse water.
Op hoër grond my oupa, tydloos nou, in diepe gesprek
met die San opperhoof. Ou vrinne, belangstelling: die ewigheid.
Ook ek en my vriend, geen baardsteek ouer, besig om die wêreld
se eerste vis te vang, saam met die chief se dogters, nes eergister.
Die lam en die leeu. Wetenskap, wat die Bybel ontmoet.
Louter paradys. Ek voel sommer "in een stuk"
en slaan nog winderdmedisyne weg: "Sien jou môreoggend."
"Ja," sê my vriend; staan ook op en, asof hy my lees:
"Die fossielmuseum, 'n kraamsorg-eenheid." Ons lag.
'n Vertroostende gedagte, dat almal wat in die vallei
in vergange tye geleef het, steeds met ons in die hede is.
Ek klim in die bed. Die nagte hier is goed vir my.
Dis miskien wat bedoel word met "integrasie van die gees".
Behalwe vir hierdie drome wat ek kry.
Dit kan onmoontlik my eie wees.

COMMENTS OF THE POEM
READ THIS POEM IN OTHER LANGUAGES
Close
Error Success